Laerskool Lochnerhof

Vakke aangebied:

  • Afrikaans Huistaal
  • Engels Eerste Addisionele Taal
  • Wiskunde
  • Natuurwetenskappe
  • Tegnologie
  • Sosiale Wetenskappe (Geskiedenis en Geografie)
  • Lewensoriëntering (LO Prakties, Lewensvaardighede)
  • Skeppende Kunste (Drama en Visuele Kunste)
  • Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Wat maak ons akademie spesiaal?
In Lochieland is ons onderrigmedium Afrikaans en gee ons vakonderrig vanaf graad 4. Dit beteken dat ons vakspesialiste het wat passievol is oor hulle onderskeie vakke en daarom die inhoud met entoesiasme aan die kinders oordra.
Ons probeer elke jaar vernuwend dink oor die werk wat ons moet onderrig en is nie noodwendig handboek gebonde nie. Ons het dataprojektors in elke klas en gebruik dit met vrug om die lesse interessant en relevant aan te bied.

In ons klasse probeer ons om die kinders voor te berei op ‘n wêreld waar daar van hulle verwag gaan word om probleme te kan oplos, kreatief te kan dink en idees te kan genereer.

Ons rekenaarsentrum en biblioteek is ook beskikbaar na skool vir kinders wat wil navorsing doen vir take. ‘n Onderwyseres is tot hulle beskikking om hulle hiermee te help.

Wat doen ons vir verryking?
Behalwe vir die daaglikse verryking in die klasse, bied ons ook die volgende:

  • Breinboelies waar die Top 20 presteerders in elke graad kwartaalliks op ‘n akademiese uitstappie gaan.
  • Ons wys kwartaalliks die Top 15-leerders in elke graad aan.
  • Ons moedig ons leerders aan om deel te neem aan die Conquesta Olimpiade in Afrikaans, Engels, Wiskunde en Natuurwetenskap. Hierin presteer ons jaarliks uitstekend.
  • Ons neem deel aan ‘n verskeidenheid Olimpiades.
  • Ons het ‘n Lego League-span wat opleiding in robotika ontvang en aan die kompetisie deelneem.
  • Die graad 7’s hou jaarliks hul eie Wetenskap-ekspo met eksterne beoordelaars. Leerders wat kwalifiseer neem dan deel aan die Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes. Hier presteer Lochnerhof uitstekend en het onder andere ‘n nasionale kampioen in haar afdeling opgelewer.

Wat doen ons om ons leerders akademies te ondersteun?
Ons het ‘n groot span opgeleide terapeute tot ons beskikking. Kinders word gedurende klastyd onttrek vir leerondersteuning in kleiner groepies. Namiddae gebruik ons goedgekeurde rekenaarprogramme om geselekteerde kinders te ondersteun in Wiskunde en Afrikaans en ekstra klasse word ook namiddae in Afrikaans, Engels en Wiskunde aangebied. Al hierdie hulp is gratis beskikbaar.

Dan werk ons ook nou saam met die ARA Terapiesentrum oorkant die skool waar ons kinders teen ‘n vasgestelde tarief akademies asook emosioneel ondersteun word. Die skool het ook 2 maatskaplike werksters wat leerders ondersteun.